Mukhanyo Teologiese Kollege (MTC) se Potchefstroom-sentrum het wat op 10 Februarie 2026 met BTh1-klasse begin. Hierdie ontwikkeling volg op die onlangse besluit van die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) om Mukhanyo aan te wys as ’n geakkrediteerde studie-opsie vir die opleiding van sy toekomstige predikante.
Terwyl die hoërsertifikaatprogramme van MTC al vir meer as ‘n dekade in Potchefstroom aangebied word, funksioneer die Potchefstroom-sentrum van vanjaar af as ’n toegewyde sentrum vir gereformeerde teologiese graad-opleiding. Hierin werk MTC met die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP) saam. Die sentrum staan onder leiding van Professor Henk Stoker, wat tot einde 2025 as Rektor van die TSP gedien het. Professor Stoker bring uitgebreide akademiese, kerklike en administratiewe ervaring met hom mee, wat kontinuïteit in gereformeerde teologiese opleiding, asook ’n sterk verbintenis tot akademiese uitnemendheid en belydenisgetrouheid, verseker.
Die BTh-graad waarvoor eerstejaarstudente vanjaar by MTC se Potchefstroom-sentrum ingeskryf het, is ‘n nasionaal geakkrediteerde teologiese B-graad in Teologie, en word in Afrikaans en Engels aangebied. Onderrig vind deur kerklik-beroepe professore en goedgekeurde dosente plaas – dus deur spesialiste in die onderskeie vakke.
Met verwysing na die bekendstelling van die Potchefstroom-sentrum het dr. Brian DeVries, prinsipaal van MTC, gesê: “Ons is dankbaar vir die vertroue wat die GKSA in Mukhanyo stel. Die bekendstelling van die Potchefstroom-sentrum verteenwoordig ’n belangrike stap in die versterking van gereformeerde teologiese opleiding in Suid-Afrika. Ons doel is om toekomstige predikante toe te rus met ’n stewige grondslag in die Skrif, gesonde teologiese insig en die karakter wat nodig is vir getroue en effektiewe diens in Christus se kerk.”
Voornemende teologiese studente van die GKSA wat vir die tweede semester of volgende jaar wil inskryf of verdere inligting verlang, kan die registrateur van die TSP, Lieze Coetzer, kontak by curators@gksa.co.za. Ander studente kan direk deur die MTC-portaal inskryf https://mtc.ac.za/apply-now/. Studente kan ook kontak maak deur ‘n Whatsapp na Prof. Stoker te stuur by 0823278921
Akademiese program en eerste-semester modules
Die Potchefstroom-sentrum bied tans die Baccalaureus in Teologie (BTh)-program aan. Die eerste semester van die eerste jaar sluit die volgende modules in, elk met ’n kredietwaarde van 10 krediete:
- Hebreeus Inleidend
- Grieks Inleidend
- Akademiese Geletterdheid
- Die verhaal van die Bybel
- Die Pentateug
- Sinoptiese Evangelies en Handelinge
- Inleiding tot Dogmatiek
’n Keusemodule in Engels is beskikbaar vir studente wat beoog om later ook ’n Nagraadse Sertifikaat in Onderwys (NGOS) deur MTC te verwerf.
Die teologiese modules is ontwerp om studente ’n sterk grondslag te bied in Bybelse tale, Skrifkennis, ander aspekte van die Teologie, asook akademiese vaardighede. Die program het ten doel om studente nie net voor te berei vir verdere teologiese studie nie, maar ook vir die praktiese eise van die bediening, insluitend prediking, pastorale- en jeugsorg, sending en ander aspekte van onderrig binne die lewe van die kerk.
Die bekendstelling van die Potchefstroom-sentrum weerspieël ’n gedeelde verbintenis tussen Mukhanyo Teologiese Kollege, die GKSA en die breër gereformeerde gemeenskap om teologiese opleiding te bied wat akademies geloofwaardig, belydenisgetrou en Bybels-gegrond is.
Mukhanyo Teologiese Kollege sien daarna uit om nog studente by die Potchefstroom-sentrum te verwelkom.